OUDTSHOORN RUGBYNUUS - All Blacks het Saterdag sy eerste SWD Presidentsligawedstryd van die seisoen teen Collegians op die Bridgton-sportterrein met 15-13 gewen nadat hy reeds rustyd met 8-3 voorgeloop het.
Collegians het die wedstryd goed begin en het All Blacks grotendeels op die agtervoet gehou.
Net 'n gebrek aan ondersteuning het verhoed dat Collegians reeds vroeg kon punte aanteken. Die twee pakke voorspelers het goed teen mekaar opgeweeg alhoewel Collegians in die lynstane gesukkel het.
All Blacks het op kritieke tye punte aangeteken en het tot aan die einde koelkop gebly om hul voorsprong van die eerste helfte suksesvol te verdedig.
Vir Collegians het Jason Plaatjies (vleuel) en Warren Olifant (haker) drieë gedruk. Plaatjies het met een strafskop geslaag. Vir All Blacks het Damian Januarie (losskakel) en Denver Lutz (senter) elk een drie gedruk. Vinchenzo Adams (skrumskakel) was suksesvol met een doelskop en strafskop elk.
Collegians se volgende wedstryd is Saterdag teen Uniondale United op Uniondale. All Blacks speel Saterdag teen Spring Roses op Bridgton-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'