Silver Stars het rustye met 15-14 voorgeloop.
Na ’n flou eerste helfte het albei spanne in die tweede helfte die skare op pragtige hardlooprugby getrakteer en die uitslag was tot die einde in die weegskaal. Albei spanne het drie puik drieë gaan druk.
Vir All Blacks het die belowende jong agterspeler, Willempie Jaftha, ’n blink wedstryd gehad en was hy elke keer gevaarlik met die bal in die hand.
Silver Stars se agttal het die tuisspan harde bene laat kou.
Die besoekers het eerste punte aangeteken toe Marshall Boesak met ’n strafskop geslaag het. Neil Daniels het All Blacks se eerste drie in die 20ste minuut gaan druk wat deur Jean-Pierre Van Vught verdoel is. Silver Stars het egter kort hierna teruggeslaan toe die heelagter, Elgin Josephs, by sy agterlyn aangesluit en All Blacks se verdediging oorhoops gevang het.
Johnny Baartman (senter) het twee minute later weer gaan druk om Silver Stars met 15-7 te laat voorloop.
All Blacks het kort voor rustyd die agterstand laat krimp toe Alexander Josephs (senter) ’n bal wat verkeerd gespring het vir Silver Stars se agterspelers in die hande gekry en onder die pale gaan druk het. Van Vught het verdoel om die rustydtelling op 15-14 te staan te bring.
All Blacks het kort na die hervatting vir die eerste keer voorgeloop danksy ’n strafdoel deur Van Vught. (17-15). ’n Praglopie van Lucian Africa, heelagter van All Blacks, het byna op nog ’n drie uitgeloop, maar dit was die besoekers wat weer die voortou geneem het danksy ’n pragdrie wat die kaptein, Linville Marnewil, agter die pale gaan druk het en wat deur Boesak verdoel is (22 -17).
Van Vught het met tweede strafdoel weer die agterstand laat krimp na 22-20.
All Blacks het hierna met die een beweging na die ander aangeval maar swak hanteerwerk, verkeerde opsies en wilde aangeë het moontlike punte soos mis voor die son laat verdwyn.
Uiteindelik was dit ’n skitterdrie onder die pale deur Willempie Jaftha, nadat voor- en agterspelers die bal hanteer het, wat Silver Stars se doppie geklink het.
All Blacks was teen die einde ook sterk op die aanval vir ‘n bonusdrie, maar die besoekers se verdediging het enduit gehou.
All Blacks se B-span het met 24-0 verloor terwyl die C-span darem met 13-10 geseëvier het.
All Blacks speel die naweek in ‘n wegwedstryd teen Swellendam wat tans laaste op die punteleer is.

Die seëvierende All Black-span wat Silver Stars Saterdag geklop het. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'