OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Adias van Volmoed is die Karoostreek-kampioene na 'n skitterende oorwinning oor Rangers van Dysselsdorp. Die eindtelling was 23-12 nadat Adias rustyd 5-0 voorgeloop het. Adias sal volgende jaar in SWD se Presidentsliga speel.
Die twee spanne het aanvanklik goed teen mekaar opgeweeg en die wedstryd was tot die einde toe in die weegskaal. 'n Losbal wat Adias naby hulle doellyn opgepik het, het egter die uitslag bo alle twyfel gestel toe hul vleuel meer as 60 meter gehardloop het vir 'n drie.
Rangers, wat goeie rekenskap van hulself gegee het, het net na rustyd gaan druk om die telling 5 elk te maak. Adias het egter terug geslaan met 'n verdoelde drie, strafdoel en 'n skepskop om 18-5 voor te loop. Rangers het egter nie op hulle laat wag nie en self 'n verdoelde drie gedruk. Met twee minute speeltyd oor was Rangers sterk op die aanval en net foute op kritieke tye het hulle verhoed om te druk.
Een van Rangers se hanteerfoute het Adias se senter, Francois Gelderbloem in staat gestel om 'n los bal op te raap en die vleuel, Bradley Gericke te voer.
Gericke het oopgelê doellyn toe om Rangers se harte te breek.
Voorlangs het Pieter Van Vuuren, Damian Wagenaar, Realdo Muller en Ivan Scholtz reusewerk vir Adias gedoen. Agterlangs het Piet Dondas, Gelder-bloem, Philip Arries en Gericke vir Adias uitgeblink.
Andries Jacobs, voor-sitter van Rangers sê hulle moet hulself blameer omdat hulle nie kampioene is nie. "Ons het minstens vier of vyf geleenthede om
punte aan te teken, deur ons vingers laat glip met verkeerde opsies. Ons het ook onnodige balbesit wegskop en die aangee wat verlore gegaan het, het ons uiteindelik die wedstryd gekos."
Adias se drieë is gedruk deur Muller, Dondas en Gelderbloem. Gericke het 'n doel en strafskop bygedra terwyl Charlton Prinsloo ook met 'n skepskop geslaag het.
Vir Dysselsdorp het die twee vleuels Donnie Makonie en Patrick Jaftha elkeen 'n drie gedruk. Davestin Esau het een drie verdoel.
Dysselsdorp B is as kampioene in die B-afdeling gekroon nadat hulle Calitzdorp B in hul eindstryd met 18-13 verslaan het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'