OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Bridgton-rugbyklub word tans deur die SWD-rugbyunie bestuur na ses van hul nege bestuurslede bedank het.
Volgens Hennie Baartman, president van die unie en Benito Metembo, die klub se voorsitter, hou die bedankings verband met die bedrogklag wat vroeër die jaar gelê is.
Baartman het Dinsdag 10 Julie gesê, SWD-rugby se uitvoerende bestuur vergader Maandag 16 Julie om dié kwessie te bespreek. "Ons sal daarna aanbevelings en beslissings aan die klub maak."
'n Bron wat verkies om anoniem te bly het in Meimaand aan die Oudtshoorn Courant gesê dat 'n klag van bedrog by die polisie ingedien is. Dieseflde bron beweer ook dat die klub se bankkaart gebruik is om privaat aankope te doen en selfs om elektrisiteit vir mense aan te koop. Volgens die bron het 'n ouditeursverslag van 'n plaaslike ouditeursfirma ongerymdhede ten opsigte van uitgawes van die klub se geld uitgelig.
"Ons praat van derduisende rande wat op hierdie manier sonder goedkeuring van die bestuur bestee is," het die persoon gesê.
Ten spyte van die klag is Metembo van mening dat die klub se finansiële posisie gesond is.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat 'n klag van bedrog ondersoek word vir beweerde misbruik van klubfondse tussen 1 Oktober 2016 en 1 Oktober 2017.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'