OUDTSHOORN NUUS - Yolande de Villiers (46), bekende bergfietsryer van Oudtshoorn en ook onlangse Attakwas Extreme MTB-wenner, sterk goed aan nadat sy drie maande gelede ernstige beserings gedurende die Trek2Teebus bergfietstoernooi in Steynsburg (Oos-Kaap) opgedoen het.
De Villiers het in 'n ongeluk haar linker tibia op vier plekke gebreek.
Sy het ook 'n fraktuur aan haar fibula opgedoen.
Sy vertel dat sy en haar vennoot, Neil Ungerer, gemaklik voorgeloop het in hierdie resies toe Ungerer skielik skerp voor haar gerem het. Om kontak met sy agterste wiel te vermy het sy uitgeswaai, maar ongelukkig teen 'n spoed van ongeveer 50 km per uur in 'n muur vasgery.
"Die pyn was verskriklik en ek het dadelik met die inpak van die botsing geweet dat my linkerbeen seergekry het. Neil het my gelukkig vinnig te hulp gesnel en sy hartslaggordel styf om my been gebind om oormatige bloedverlies te verhoed." Paramedici was binne 'n halfuur op die toneel en het haar na 'n hospitaal op Queenstown geneem waar sy geopereer is.
Yolande is na vyf dae in die hospitaal ontslaan waarna sy na Oudtshoorn teruggekeer het.
"Vir 'n aktiewe persoon soos ek is drie maande van net by die huis lê amper soos 'n doodsvonnis. Tans is die gereelde fisioterapie wat ek ontvang die enigste aktiewe oefening wat ek kry," sê Yolande laggend. Die stut wat Yolande tans aan haar linkerbeen het, sou gister deur 'n geneesheer op Oudtshoorn afgehaal word.
Volgens haar het sy in dié tydperk reeds verskeie belangrike bergfietstoernooie soos die SA bergfietsrykampioenskappe, as gevolg van haar beserings misgeloop. Sy beplan egter om op 8 September 'n terugkeer te maak wanneer sy die bekende Cape Pioneer Trek hopelik gaan aanpak.
"Die een positiewe van hierdie drie maande se niks-doen is dat ek baie introspeksie oor my lewe en fietsry gedoen het. My man, kinders asook my ma het my in hierdie moeilike tyd bygestaan en daarvoor is ek verskriklik dankbaar. Soms moet 'n mens maar net geduldig wees en aanvaar dat God jou lewe vir 'n rede tot stilstand dwing. Die onus berus op jouself om sin daaruit te maak terwyl jy stelselmatig herstel."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'