OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorniet, Susan White, het verlede naweek stof in die oë van haar teenstanders geskop in die Ferrari World Abu Dhabi Formula-wedloop. White en haar man, Eben, woon reeds vir die afgelope jaar in Abu Dhabi.
Volgens White het sowat 5 000 atlete vanoor die wêreld aan hierdie wedloop deelgeneem en sowat 450 deelnemers in die 2, 5km ope- afdeling waarin sy meegeding het.
"Om die waarheid te sê is ek steeds verwonderd en baie trots op hierdie prestasie omdat dit een van my bucket list-doelwitte was sedert ons hier kom woon het. My voorbereiding vir hierdie wedloop het reeds 'n geruime tyd gelede begin. So twee maande gelede het ek 'n vierde plek behaal in die Warber Bros Abu Dhabi-wedloop en dis toe ek finaal besluit het om kliphard te oefen vir 'n podiumplek vir die Formula-wedloop. Maar soos ek sê, hierdie oorwinning het my verwagtinge oortref."
White sê dat sy al van skool af 'n langafstandatleet is wat onder andere aan die Oostelike Provinsie se landloopkampioenskappe deelgeneem het.
"Oor die jare het ek my maar probeer fiks hou deur tussen deur te draf. Dis meer 'n leefstylgewoonte as enige iets anders. Die volgende wedloop waarna ek uitsien is die All Reem-wedloop op 24 Junie," sê sy.
Die topvyf atlete in White se afdeling het as volg geëindig:
- Susan White (Suid-Afrika)
- Sharon del Pilar (Filippyne)
- Danielle Barrie-Smith (Suid-Afrika)
- Melissa Beran (Amerika)
- Sameera El Masri (UAE)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’