Volmoed Primêr is `n landelike skool, sowat 25 km buite Oudtshoorn geleë.
Die skool se tien opvoeders onderrig 288 leerders van Gr. R tot Gr. 8. Sport is `n belangrike deel van die skool se kurrikulum aangesien daar voorsien word aan al die kind se ontwikkelingsbehoeftes. Hierdie poging word egter deur verskeie faktore gestrem.
Minder as 60% van die skool se ouers verdien `n inkomste. `n Gebrek aan befondsing asook sportgeriewe is maar sommige van die nypende kwessies. Die skool se sportdag is dus `n belangrike gebeurtenis om aan kinders die nodige blootstelling en ontwikkelings-geleentheid te bied, maar ook fondse vir die skool te genereer.
Bartell du Toit, eienaar van La Plume Gastehuis, het reeds truie geskenk vir die o.14-rugbyspan. Benewens stelle truie vir die onderskeie spanne, benodig die skool ook items soos vetkoeke, kerrie-en-rys, worsrolletjies en koeldranke wat op die dag verkoop kan word. Volmoed Primêre Skool is beslis nie `n skool wat bakhand staan nie. Die eerste en tweede kwartaal kalenders het reeds `n atletiekbyeenkoms, talentaand asook `n snoekbraai gesien.
Die sportdag en skoolbasaar is maar een van die belangrike datums wat opgeteken kan word. In die vierde kwartaal word `n me. Lente-aand op Vrydag 12 Oktober gehou. Op Vrydag 16 November volg die debutante-bal op en 30 November die Gr.R-diploma-
plegtigheid.

Mnr. Stephen Malan, hoof van die skool en Bettie, een van die skoolkokke, by `n gr.7-klas.
FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR