OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die interdistrikte vroueveterane-rolbalkampioenskappe het van 6 tot 10 Maart by die Oudtshoorn-rolbalbaan plaasgevind.
Die geleentheid word jaarliks deur Rolbal Suid-Afrika aangebied, en Eden-distrik was hierdie jaar die gasheer.
Die twintig distrikte se mansveterane het in George by die Outeniqua- en George-rolbalklub gespeel terwyl die dames by Oudtshoorn-rolbalklub meegeding het.
Hulle was in 10 rooi- en 10 blou-seksies opgedeel. Die wenner van elke seksie het teen mekaar gespeel om in aanmerking te kom vir eerste en tweede plek.
Die derde plek in die vroue-veterane se rooi-seksie was Noord-Wes, en in die blou-seksie, Oostelike Provinsie.
Boland en Port Natal het in die finale ronde teen mekaar meegeding. Boland het die eindstryd met ses punte teenoor Port Natal se vier punte gewen.
Uitslae:
Vroue:
- Boland - goud (ses punte)
- Port Natal - silwer (vier punte)
- Noord-Wes - brons (rooi seksie - 69,5 punte)
- Oostelike Provinsie - brons (blou seksie - 63 punte)
Mans:
- Westelike Provinsie - goud (6,5 punte)
- Eden-distrik - silwer (5,5 punte)
- Oostelike-provinsie - brons
- Noord-Wes - brons
- Die Eden-distrik vrouespelers het vyfde in die blou seksie geëindig.
Port Natal saam met Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn. Hulle het silwer in die interdistrikte vroueveteranerolbalkampionskappe verower. Foto: Sonia Wahl
'n Speler van die Oostelike Provinsie in aksie.
Sowat 20 distrikte vanoor die land, wat 160 spelers insluit, het by die interdistrikte veteranevrouerolbalkampioenskappe aangetree wat op 6 Maart by die Oudtshoorn-rolbalklub begin het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'