OUDTSHOORN NUUS - Tydens die onlangse Fauresmith-internasionale uithourit in die Vrystaat, het Natasja Lareman, Michael Vaaltyn en Nico-Meyer le Roux uitstekende resultate gelewer.
Hierdie uithourit strek oor drie dae en 'n totale afstand van 205 km word gedek.
Die rit was besonder taai en as gevolg van baie reën en verspoelings het slegs 46% van deelnemers dié uithourit suksesvol voltooi.
Deelnemers van Oudtshoorn en die omliggende area
Lareman (22) wat van Oudtshoorn is, het in die top-20 van die liggewigafdeling klaargemaak en hierdie was beide ruiter en perd se eerste Fauresmith-uithourit wat hulle aangedurf het.
Nico-Meyer le Roux (24) en sy perd, Laska van Le Roux Endurance, het 'n derde plek in die standaardgewigafdeling behaal, hierdie was Nico-Meyer se sewende Fauresmith-uithourit waaraan hy deelgeneem het.
Michael Vaaltyn (32), wat ook vir Le Roux Endurance gery het, het 'n ongelooflike eerste plek in die liggewigafdeling behaal en is as die algehele wenner van die Fauresmith-uithourit aangewys. Sy tyd was 30 minute vinniger as die persoon wat tweede in die liggewigafdeling gekom het.
Natasja Lareman en haar perd, Daybreak Ihab.
Lara le Roux (22), Nico-Meyer se suster, het ongelukkig teenspoed met haar perd gehad en het op die eerste dag uitgeval.
Al hierdie deelnemers het die Westelike Provinsie tydens die Fauresmith-uithourit verteenwoordig.
Meyer le Roux en sy ruiter Michael Vaaltyn wat eerste plek in die liggewig-afdeling behaal het. Vaaltyn was ook as die algehele wenner van die Fauresmith-uithourit aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'