OUDTSHOORN NUUS - Nege talentvolle jong pluimbalspelers van die Eden-streek het van 3 tot 5 Julie hul staal tydens die Oostelike Provinsie-, Grens- en Eden- sosiale pluimbaltoernooi in Gqeberha getoon.
Verskeie spelers het podiumplekke behaal.
Volgens Ursula van Huyssteen, ontwikkelingsbeampte vir die Eden-streek, het die Eden-span bestaan uit ses spelers van Kairos Secondary School in Heidelberg, een van Melkhoutfontein Primêre Skool, een van die Paideia Inclusive Education Centre en een van Oudtshoorn.
Die Oudtshoorn-speler, Truhan Weyers, was een van die uitblinkers en het twee silwermedaljes verower. Hy het tweede in die o. 15-seunsenkelspel geëindig en het saam met sy spanmaat, Hannes van Huyssteen (Stilbaai), ook silwer in die o. 15-seunsdubbelspel gewen.
Hannes het op sy sukses voortgebou deur saam met Nahum Rossouw (Stilbaai) ook die silwermedalje in die o. 19-seunsdubbelspel te verower.
“Hoewel die medaljes die hoogtepunt van die toernooi was, het die jong spelers ook waardevolle wedstrydervaring teen sterk teenstanders uit die Oos- en Suid-Kaap opgedoen.
Die toernooi het aan hulle die geleentheid gebied om hul vaardighede verder te ontwikkel en sportmangees en spanwerk te versterk,” het Van Huyssteen gesê.

Sy sê dat dié sport se gewildheid onder junior spelers in die Suid-Kaap steeds groei.
“Die sport help jongmense om spoed, koördinasie, konsentrasie en fiksheid te ontwikkel, terwyl dit terselfdertyd vir seuns en meisies van alle ouderdomme toeganklik is. Met toegewyde afrigters en toenemende deelname by skole, kry al hoe meer spelers die geleentheid om op provinsiale vlak mee te ding.”
Die Oudtshoorn-pluimbalklub nooi ook nuwe junior spelers. Belangstellende leerders tussen die ouderdom van 6 en 18, ouers en skole wat meer oor die sport wil uitvind of daarby betrokke wil raak, kan Van Huyssteen by 084 503 8481 of Janine Kotze by 084 722 8109 skakel.
Ondersteuning word gebied om nuwe spelers, skole en gemeenskappe by dié sport te betrek.
Die spelers oefen Dinsdae en Donderdae vanaf 17:30 tot 19:00 by die De Jager-sportkompleks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’