SWEMNUUS - George hou duime vas vir Minke Janse van Rensburg wat genomineer is as 'n SA Sport Awards-finalis in die afdeling vir gestremde sportvrou van die jaar.
Die 18-jarige swemsensasie van George het reeds verskeie wêreldrekords opgestel. Dit sluit in vier ope-wêreldrekords en verskeie senior wêreldrekords.
Minke het Vrydagaand, 10 Februarie, haar 50 m- vryslag downsindroom wêreldrekord met o.15 sekondes verbeter tydens die Infinity Gala by die Newton Park-swembad in Gqeberha.
Die geleentheid vind aan-staande naweek by Sun City in Noordwes onder die vaandel van die departement van sport, kuns en kultuur plaas.
Vrydagaand, 24 Maart, is daar 'n verwelkomings-geleentheid vir die finaliste. Saterdagaand, 25 Maart, sal die toekennings gemaak word tydens 'n spog galageleentheid.
Minke se pa, Hennie, het gister (Woensdag) gesê sy was in die verlede 'n finalis in die afdeling opkomende sportster. Dis die eerste keer dat sy 'n finalis in die afdeling gestremde sportvrou is.
"Ons is baie opgewonde en sien baie uit na die geleentheid. Ons (haar ouers) en sy sal self die geleentheid bywoon. Die afgelope tyd kon sy nie internasionaal meeding nie."
Luidens 'n skrywe van die departement wat die geleentheid aanbied, het dit die vooruitsig om toperkenning te gee aan Suid-Afrikaanse sporttalent in al die sport sfere.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'