Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Groot atletiek sal die naweek te sien wees in George en Oudtshoorn wanneer atlete van meer as 70 skole op die dorpe toesak vir die Kwagga Top 10-atletiekbyeenkoms wat deur Hoërskool Outeniqua aangebied word.
Die Kwaggas se hoof van atletiek, Jacques Wolfaardt, sê vir enigiemand wat van atletiek hou is hierdie 'n byeenkoms om by te woon om al die ongelooflike talent te kan sien.
Top Suid-Afrikaanse atlete soos die spiesgooier Jo-Ané van Dyk en die paalspringer Miré Reinstorf het deur hierdie struktuur gekom.
"By die byeenkoms kan kinders hul talente ontdek en dit slyp en dan kan hulle hoër hoogtes bereik," sê Wolfaardt.
Altesaam 51 hoërskole en 20 laerskole van regoor Suid-Afrika gaan die byeenkoms bywoon met 170 spanne van 10 lede elk wat ingeskryf het. Aan die hamergooi alleen gaan 85 atlete deelneem.
VIDEO - Group Editors gesels met Kwagga hoof van atletiek, Jacques Wolfaardt:
Van die skole wat die verste reis is Hoërskool Dirkie Uys vanaf Moorreesburg, Hoërskool Witteberg vanaf Bethlehem en ook Paarl Primêre Seunskool en Laerskool Paarl Gimnasium.
"Vandat ons hierdie byeenkoms begin hou het, kan ons nie voorbly nie en ons kan net soveel skole aanvaar. Dit is die grootste top 10 atletiekbyeenkooms in die Suid-, Wes- en Oos-Kaap en die sterkste atlete kom om hul skole te verteenwoordig," sê Wolfaardt.
Vrydag sal die laerskool-items asook die hamer-gooi en paalspring by Hoërskool Outeniqua se skoolgrond plaasvind en Saterdag sal die hoërskoolitems by die De Jager sportkompleks in Oudtshoorn plaasvind.
Die hoofborge van die byeenkoms is Safari braaiprodukte, Elite finansiële dienste en Kirsten en Tulleken Vervoer.
Medeborge is Morris Apteek, Arrie Nel Apteekgroep, Van Rensburg Lancet Laboratories en Top Gear Sport.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’