OUDTSHOORN NUUS - Stephnie McKay is gekies as SWD-tweekamp se nuwe voorsitter.
McKay is in die plek van Dave van der Walt, wat vir 27 jaar die voorsitter was. Van der Walt het hom nie weer verkiesbaar gestel nie.
SWD-tweekamp se nuwe bestuur is Dinsdag 17 Oktober tydens hul algemene jaarvergadering gekies.
Volgens Van der Walt sal die nuwe bestuur, bestaande uit jonger bestuurslede tot voordeel van SWD-tweekamp wees.
"SWD-tweekamp se rolspelers het 'n imbizo gehou oor die opvolgproses. Belangrike besluite om tweekamp vorentoe te neem in die afsienbare tyd, is geneem.
"Daar is onder andere besluit om 'n betaalde operasionele bestuurder aan te stel om die tegniese aspekte te hanteer en sodoende die druk op die bestuur te verminder.
"'n Spesiale poging, onder leiding van die ontwikkelings en transformasie bestuurslid, Chris van Wyk, om gestremde atlete toenemend te akkommodeer, sal 'n prioriteit wees."
Van der Walt het in sy finale voorsittersverslag gemeld dat SWD-tweekamp se finansies gesond is en dat SWD-tweekamp jaarliks met 'n ongekwalifiseerde geouditeerde finansiële verslag kan spog.
Hy het ook al die borge oor al die jare bedank. Hier het hy Highgate-volstruisplaas wat vir meer as 20 jaar by SWD-tweekamp betrokke is, uitgesonder.
Die nuwe bestuur is:
- Voorsitter: Stephnie McKay
- Visevoorsitter (seniors, veterane en meesters): Johan Windt
- Visevoorsitter (baan en beamptes): Juan Pretorius
- Visevoorsitter (atlete en swem): Marius Schlechter
- Sekretaresse: Aneen Janse van Rensburg
- Tesourier: Yvonne McKay
- Skoleverteenwoordiger: Rudi Reichert
- Damesverteenwoordiger: Stephnie McKay
- Ontwikkeling en transformasie: Chris van Wyk
- Seniors: Juan Pretorius
- Erelede: Dave van der Walt en Stephen McKay
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'