Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Sport in Oudtshoorn is gesond en sterk. Daarvan getuig die nege toekennings wat dié dorp se sportlui by vanjaar se Eden-sporttoekennings ingepalm het. Sowat 300 uitgelese gaste het Donderdagaand hierdie spoggeleentheid by die George-banketsaal bygewoon waartydens verskeie atlete, administrateurs en amptenare van verskillende sportsoorte vir hul prestasies die afgelope jaar vereer is.
Die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport (R75 000) en George-munisipaliteit (R30 000), het groot finansiële bydraes gemaak om vanjaar se prysuitdeling moontlik te maak.
Die wenners in hul onderskeie kategorieë sal nou op 14 September na Kaapstad vertrek waar hulle tydens die Wes-Kaapse Sporttoekennings teen die wenners van die Kaapse Metro, Kaapse Wynlande, Weskus Overberg en Sentraal Karoo distrikte sal meeding.
Dr. Lyndon Bouah, direkteur van sport en rekreasie, het in sy spreekbeurt gesê dat die wenners in Kaapstad na die nasionale sport toekenningsaand sal deurdring wat in Novembermaand in Durban sal plaasvind. Alle provinsiale wenners sal op onkoste van die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport na dié gesogte aand gevlieg word.
"Eden is 'n distrik van uitnemendheid en ons het realistiese verwagtinge dat daar heelwat toekomstige Protea-sportsterre uit ons geledere gaan kom."
Laerskool Van Reede se trompoppiespan. Foto's: Wyndham Ewerts
Toekennings ontvang:
- Laerskole sportvrou van die jaar - Jada Coetzee
- Administrateur van die jaar - Corné Bence
- Span van die jaar – SWD Arende
- Fotograaf van die jaar - Ebenezer Titus (vryskutfotograaf)
- Rekreasie instansie van die jaar - Oudtshoorn Christelike Jeug Forum
- Skoolspan van die jaar - Laerskool Van Reede trompoppies
- Federasie van die jaar - Eden Biathlon
- Gestremde sportman van die jaar - Phillo Verlaat
- Sportjoernalis van die jaar - Wyndham Ewerts
Hennie Baartman, voorsitter van die SWD-rugby-unie, het namens die SWD Arende die toekenning vir sportspan van die jaar ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'