OUDTSHOORN NUUS - Die SuperSport "Lets Play Festival" wat verlede Saterdag in samewerking met SWD Arende en SWD-netbal by Rooiheuwel VGK Primêr plaasgevind het, was 'n reusesukses.
Die dag het om 09:00 begin met die skoolhoof van Rooiheuwel Primêr, John de Laan en Hennie Baartman (president van SWD-rugby), wat die verrigtinge geopen het.
Die laerskole wat deel was van die dag het St. Konrad, Rooiheuwel, De Villiers Primêr, Colridge Primêr, De Jager, Volmoed en Sacred Heart ingesluit.
Hierdie skole se o.9-, o.11- en o.13-netbal- en rugbyspanne het om die beurt opwindende spel opgedis tot groot vermaak van die honderde ouers en toeskouers wat opgedaag het.
Die wedstryde is voorafgegaan deur intensiewe afrigtingsessies deur SWD rugby- en netbalspelers wat die leerders die fynere kunsies van die spel touwys gemaak het. Die dag is afgesluit met vriendskaplike SWD landelike rugbywedstryde.
Die sportdag is goed ondersteun deur die inwoners van die groter Oudtshoorn.
Spelers van die SWD Arende wat die afrigtingsklinieke van die dag aangebied het, is van links: Deon Carstens, Arie O' Neil, John de Laan (prinsipaal van Rooiheuwel VGK Primêr), Hennie Baartman (SWD Arende-president), Khanya Ncusane, Austin Prins en Adi Jacobs.
'n Rugbyspelertjie van Sacred Heart Primêr swenk om sy teenstander te klop. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'