SUID-KAAP JUKSKEINUUS - Driespel-jukskei ter viering van wyle Gielie Wessels, in lewe sekretaris van SWD Jukskei-unie lok jaarliks groot belangstelling. So het sosiale klubs ook vanjaar aan die kompetisie deelgeneem.
Die kompetisie het Saterdag, 10 November in Riversdal plaasgevind.
Hartenbos se B span, Buks Scholtz, Bossie Boshoff en Sydney Stopforth het hul vaardighede met die jukskeie getoon en die hierdie jaar die kompetisie oorheers deur met 25½ punte bo hul naaste teenstanders, Riversdal B1 te eindig.
Insgelyks het Hartenbos C, bestaande uit Piet von Rönge, Koot Swart en Chris Viljoen met as vierde aflosspeler Malie Pienaar ook hul teenstanders die loef afgesteek om eerste in hul afdeling te eindig.
Verblydend is die positiewe bydrae wat twee sosiale klubs, Boggomsbaai en Stilbaai gelewer het. Die sosiale spelers speel vir die genot van deelname en om van die gesoute spelers te leer. Hulle uitgangspunt is om te leer en hul eie spel te verbeter. Hulle neem fyn waar en vra vrae ten opsigte van die verskillende houe wat deur meer ervare spelers reeds bemeester is. Die sosiale spelers het by monde van Neels van der Westhuizen van Boggomsbaai getuig dat die dag leersaam en verrykend was.
Graag wil die organiseerders van die ope jukskeidae ook alle ander bestaande sosiale klubs waaronder Groot-Brakrivier, Danabaai, Gouritzmond en andere sorteer aanmoedig om in te skryf en spanne na die ope byeenkomste te stuur. Die volgende ope dag is op Saterdag, 1 Desember wanneer die Mosselbaai-klub 'n enkelspelkompetisie op Hartenbos se bane aanbied. Die Charles Uys-opedag vind op Saterdag, 23 Februarie in Hartenbos plaas..
B-afdeling uitslae is:
(Hartenbos se een A-span het in die B-afdeling deelgeneem).
Hartenbos B1 (71), Riversdal B1 (45), Riversdal B2 (39½) en Hartenbos B2 (24½).
C-afdeling uitslae (punte in hakies)
Die C-afdeling het bestaan uit 10 spanne. Gevolglik het hulle in twee afdelings meegeding, naamlik die Elande en Kudu's.
Elande: Hartenbos C (59½), Boggomsbaai C1 (43½), Stilbaai C1 (37½), Riversdal C1 (35) en Boggomsbaai C2 (19½).
Kudu's: Stilbaai C2 (44½); Stilbaai C3 (39); Riversdal C2 (38½); Mosselbaai C (37½); Boggomsbaai C3 (34½).
Voormelde spanne het gevolglik in 'n rondomtalie uitspeel bepaal wie eerste, tweede en derde plekke verower het.
Die finale uitslae was soos volg:
Hartenbos C (eerste); Boggomsbaai C1 (tweede) en Stilbaai C2 (derde).
Sosiale spelers wat Stilbaai en Boggomsbaai verteenwoordig het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'