OUDTSHOORN NUUS - Skuts van regoor die land het voor verlede naweek hulle skietvernuf met jaggewere by 'n geleentheid in die Suid-Kaap getoon.
Eden-jaggeweerskiet het inskrywings van 27 spanne ontvang vir die Safari Outdoor Nightforce staalgong-uitdaging naby Waboomskraal. Spanne het uit vier skuts bestaan met 90 mans, 12 dames en ses juniors wat deelgeneem het.
Vernuf is op ses verskillende bane getoets oor afstande wat tussen 175 m en 385 m wissel. Elke baan het uit vyf staalghongs bestaan. Daar is uit verskillende jagposisies geskiet. 'n span van Mpumalanga, Die Wolwe, het koning gekraai in die kompetisieklas.
Tweede plek is ingeneem deur Die Wenspan met Team Savage in die derde plek. Skuts wat nie op professionele vlak deelneem nie, het in die jagtersklas meegeding waar 'n span van Riversdal, AHS (Aim, Hold, Send it...) die wenners was met Gongbusters en Guns&Roses onderskeidelik tweede en derde.
Inyathi, die invoerders van Nightforce teleskope, en met Safari Outdoor, het pryse ter waarde van R200 000 geskenk.
Die wenners van die jagtersklas, AHS van Riversdal, is van links: Tommy Dixon, Johan du Plooy, Raynor Becker en Johan Delport. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'