Oosthuizen het verlede Vrydag besoek gebring aan die Eljada-Kairos Skool. Tien skole in die Groter Oudtshoorn-distrik het skenkings van sokkertruie, sokker- en rugbyballe en ander sporttoerusting ontvang, geskenk deur Nike SA.
"Sport gee aan ons rolmodelle, mense op wie ons trots kan wees, leiers in ons samelewing," het Oosthuizen gesê.
"`n 2020 of 2024 Olimpiese ster sit dalk vanoggend hier voor ons."
Maar skool kan ook nie agterweë gelaat word nie. "Geleerdheid en die aanleer van `n ambag is net so belangrik vir die toekoms. Almal kan dalk nie uitblinkers wees nie maar ons moet die geleenthede gebruik om ons kinders se vaardighede te ontwikkel. Hulle kan ook in die toekoms `n waardevolle bydrae lewer as afrigter of administrateur."
Die burgemeester van Groter Oudtshoorn, Gordon April, het die geleentheid as`n "voorreg" beskryf. "Ek is dankbaar dat julle 'n hand uitreik na ons dorpies en ons kinders in agtergeblewe gemeenskappe," het hy gesê.
Cora Dikgacwi, parlementslid, wat ook `n sentrale rol gespeel het in die beskikbaarstelling van hierdie skenking, het vertel dat sport `n belangrike deel is van leerders se lewe. "Ons kan nie vir kwotas in nasionale sportspanne vra as ons nie die kinders van kleins af sport leer nie."
Dikgacwi het vertel dat hy self `n sokkerspan in Elsiesrivier op die been gebring het om kinders weg te hou van dwelms en bende-aktiwiteite. Hy het gevra dat ouers meer belangstelling toon in hul kinders se sport- en skoolaktiwiteite. "Ouers moet deel wees van hul kinders se lewens en `n voorbeeld vir hulle stel."
Van links is die burgemeester van Oudtshoorn, Gordon April, by Hennie Baartman, hoof van die Eljada-Kairos Skool, adjunk-minister Gert Oosthuizen, LP Corra Dokgacwi en Jan van der Ross, skoolhoof van Hoërskool De Rust. Foto: Jacques Swart.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'