SUID-KAAP NUUS - 'n Ontwikkelingsdag wat veral op dames- en junior jaggeweerskuts fokus, word op 2 Februarie by Louvian gasteplaas deur Eden-jaggeweerskietvereniging aangebied.
Louvain is op die R62 tussen George en Uniondale geleë, ongeveer 60 km vanaf George.
Alhoewel die dag op dames en juniors gerig is, is mans meer as welkom om ook deel te neem.
Die dag begin om 09:00 en organiseerders herinner skuts om doeltreffende sonbrandbeskerming sowel as hulle eie verversings te bring.
Skuts skiet met hulle eie gewere en moet ten minste 30 rondes ammunisie saamneem.
Provinsiale sowel as nasionale skuts wat lede is van die vereniging gaan deelnemers in die staan-, kniel- sit- en lê- en sitposisies touwys maak. Alle ruste en teikens sal voorsien word en daar word onder andere op staalplate tot op 350 m geskiet.
Belangstellendes kan Junita van Zyl by 082 575 9299 of Christo Delport by 079 498 6227 kontak.