KLEIN KAROO SPORTNUUS - Die Klein Karoo-sportklub vir persone met gestremdhede het die afgelope naweek 'n suksesvolle skermkliniek by die De Jagers- sportkompleks aangebied met sowat 60 belangstellendes vanaf sover as De Rust en Volmoed wat dit bygewoon het.
Susan Agrella, wat Suid-Afrika al op nasionale vlak in hierdie dissipline verteenwoordig het, het die kliniek gefasiliteer.
Volgens Agrella is daar drie wapens waarmee dié sport beoefen word; die skermdegen (epée), die sabel (sabre) en die floret (foil).
"Die skermdegen is die swaarste van dié drie wapens en dit was ook die wapen waarop ons gefokus het. Omdat rolstoelskermers vasgeanker is op 'n voorafbepaalde plek, is afstand van kardinale belang.
"Dit is ook belangrik dat rolstoelskermers hul bolyfspiere moet ontwikkel om vorentoe te leun, sowel as agtertoe en weerskante. Hulle mag wel met hul nie-skermhand aan 'n handvatsel vashou, maar moet te alle tye een deel van die boud op die stoel hê.
"Om op te staan of op te lig vanuit die stoel, is 'n strafbare oortreding.
"Dit maak dus sin dat 'n gestremde atleet, wat sterk balans, vinnige reaksies en goed ontwikkelde bolyfspiere het, baie goed sal vaar. Benewens hulle lemvaardigheid sal die atlete voortaan 'n spesifieke oefenprogram volg.
Groot sukses is ook bereik deur dié sport met twee van die atlete, Candice Kleinbooi en Estrolita Williams, wat al in Pole aan 'n internasionale byeenkoms deelgeneem het," het Agrella bygevoeg.
Volgens Deon Lewerlot, voorsitter van die Klein Karoo-sportklub vir persone met gestremdhede, is die klub reeds 'n geruime tyd aktief met rolstoelskerm in Oudtshoorn, maar moes dit weens Covid-19-regulasies gestaak word. Na afloop van die skermkliniek het die deelnemers ook tafeltennis en 'n potjie domino's geniet.
Links is Deon Lewerlot en Susan Agrella.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'