OUDTSHOORN SPORT NUUS - Oudtshoorn se bekende jong fietsryer, Charlissa Schultz, het verlede week een van die grootste prestasies van haar fietsryloopbaan behaal toe sy 'n goue medalje by die Afrika kontinentale baankampioenskappe in Egipte losgery het.
Schultz en haar spanmaat van Pretoria, Lenka Labuschagne, het hakskene vir hul teenstanders in die junior vroue sprint-afdeling finaal gewys.
Schultz is 'n lid van die Oudtshoorn-fietsryklub en is ook 'n gr. 12-leerder verbonde aan Langenhoven Gimnasium.
Die toekoms is voorwaar blink vir hierdie fietsry-wonderkind as 'n mens in ag neem dat sy verlede jaar ook 'n goue medalje by die SA baanfietsrykampioenskappe in die punte-wedren afdeling ingepalm het.
Sy het uit Egipte laat weet dat sy en haar familie in ekstase is oor haar prestasie.
"Sonder my ouers en afrigters se volgehoue ondersteuning sou hierdie prestasies nie moontlik gewees het. Vanjaar is my laaste skooljaar en groot besluite lê dan vir my voor in terme van loopbaankeuses. Ek droom daarvan om eendag 'n beroepsfietsryer te word."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'