OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se Protea-fietsrysensasie, Charlissa Schultz is die afgelope naweek as die eerste junior Suid-Afrikaanse e-wedrenkampioen gekroon.
Schultz is 'n lid van die Oudtshoorn-fietsryklub en het ook vroeër vanjaar 'n goue medalje by die Afrika kontinentale baankampioenskappe in Egipte losgery.
Volgens Corné Bence, sameroeper van Fietsry SA het dié organisasie dit goedgedink om 'n eerste e-wedren vir o.19-fietsryers aan te bied omdat 2020 se junior padfietskampioenskappe onbepaald weens die Covid-19-pandemie uitgestel is. Omdat e-wedrenne tans nog redelik onbekend in Suid-Afrika is het Fietsry SA besluit om eers 'n paar oefenritte vir die plaaslike fietsryers op die rekenaarprogram, Zwift, aan te bied om ryers die kans te gee om vertroud met die konsep te raak.
Zwift is 'n virtuele aanlynstelsel wat ryers in staat stel om te oefen en aan aanlyn e-wedrenne te laat deelneem. Zwift neem data wat ingevoer word van jou fiets wat gekoppel is aan jou rekenaar, met behulp van 'n "power meter" of "cadence sensor". Die program gebruik dan 'n algoritme om die data te verwerk, met inagneming van jou gewig, jou krag uitset, pad gradiënt en "draft".
Daar is tans sewe verskillende kontinente op die Zwift-aanlynstelsel wat elkeen verskillende roetes het. Van hierdie roetes is geskoei op ware roetes wat professionele fietsryers van regoor die wêreld gebruik.
Die beeldmateriaal van die e-wedrenne is ook regstreeks op Fietsry SA se Facebook-blad uitgesaai wat beteken dat ondersteuners die ryers kon volg, aanmoedig en kommentaar lewer.
Die toerusting wat jy benodig sluit in jou fiets, die "trainer", "power meter", (rekenaar, iPad, iPhone of smartphone) en 'n broadband-internetkonneksie.
Die koste van 'n Zwift-stelsel beloop 'n aardige bedraggie, maar met behulp van plaaslike ryers kon die plaaslike ontwikkelings fietsryers ook aan die e-wedren deelneem.
Oor die e-wedren self het Schultz gesê dat die 50 km wat sy moes aflê darem nie te straf was nie omdat sy regdeur die jaar probeer fiks bly het.
"Die onlangse virtuele Comrades-marathon wat ek onlangs met die atleet John April afgelê het, was goud werd vir my voorbereiding en daarom kon ek die e-wedren in 'n tyd van 1 uur 38 minute en 10 sekondes voltooi. Ek wil graag my pa (Werner) en ma (Sonja) bedank vir al hul opofferinge en bystand oor my loopbaan." het sy gesê.
Fietsryers van Oudtshoorn wat ook deelgeneem het aan die nasionale e-wedren kampioenskappe:
- Zoë Arndt (7de in damesafdeling)
- Breyton Hendricks (26ste in mansafdeling)
- Benino Hans (32ste in mansafdeling).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'