OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Suid-Afrikaanse Toutrekfederasie (SATF) se senior ligakampioenskappe, senior klubkampioenskappe, asook die o. 10-laerskoolfees het Saterdag 24 Mei by die Vaardigheidskool se sportterrein plaasgevind.
Buco was die borg van die dag. Altesaam ses skolespanne en 44 sakespanne het deelgeneem.
Laerskool Wesbank, De Villiers Primêr en Zoar Primêr het in die skole-afdeling deelgeneem. Die senior ligakampioenskappe is verteenwoordig deur spanne vanuit die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat en Gauteng wat almal kampioene uit hul onderskeie streke is.
Die senior ligas uit die provinsies was deel van die keuring vir die kerngroep vir die SA toutrekspan.
Die kampioenskappe het uit verskeie afdelings bestaan waarin laerskole, klubspanne, besighede, asook senior ligaspanne van oor Suid-Afrika deelgeneem het.
SATF het die dag as uiters suksesvol beskryf en kon potensiële trekkers vir die nasionale toutrekspanne identifiseer.
Laerskool Wesbank se 'Sharks'-span het die geesbeker gewen en het met hulle krete en ywer gewys hoe dit gedoen word. Dit is ook die eerste keer dat De Villiers Primêr 'n toutrekspan inskryf.
Die Buco-tekkietoutrekafdeling het vir hope pret gesorg. Daar was egter ook sterk kompetisie in hierdie afdeling waarin verskeie spanne deelgeneem het. Bridgton Sekondêr se personeelspan het hier na die rondomtaliekompetisie, met die louere weggestap. Hulle moes dit egter tot in die eindstryd teen PSP se 'Wies bang'-span, wat 'n tweede plek behaal het, uitspook. Die Oudtshoorn Vaardigheidskool se eie personeelspan het met 'n derde plek weggestap. Die vrouepersoneel van De Villiers Primêr het gewys dat hulle 'n span is om mee rekening te hou, en het ook die geesbeker in hierdie afdeling te wen. Bridgton Sekondêr was die wenners in die tekkietoutrekafdeling.
Gavin Block, skoolhoof van die Vaardigheidskool bedank alle deelnemers en onderneem om die Buco-tekkietoutrek 'n jaarlikse instelling te maak.
Fotogalery: Toutrek tydens Senior Liga-en Klubkampioenskappe laat die stof spat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’