Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die SA toutrekkampioenskappe wat die afgelope naweek by die Oudtshoorn Vaardigheidskool se sportterrein plaasgevind het, het duisende besoekers na die dorp gelok. Talle gastehuise en naburige dorpe se koshuise was reeds 'n maand voor dié toernooi vol bespreek. Sowat 1 600 toutrekkers van oor die land het vanjaar deelgeneem in die kaalvoet- en stewels toutrekafdelings.
Laerskool Laurus (Oudtshoorn), Shalom Akademie (Ladismith), Calitzdorp skole en die Oudtshoorn Vaardigheidskool (gasheer) se toutrekspanne het Oudtshoorn en die omliggende dorpe verteenwoordig.
Gavin Block, prinsipaal van Oudtshoorn Vaardigheidskool, het sy dankbaarheid teenoor al die borge uitgespreek.
"Sonder hulle helpende hand sou hierdie groot SA toutrekbyeenkoms beslis nie kon realiseer nie." Die borge, wie se bydraes gesamentlik bykans R200 000 beloop, het Timbercity (hoofborg) , Klein-Karoo Internasionaal, PG Glass, Volmoed Quarries en Van der Bergh Vervoer en Overberg Wealth and Risk Management ingesluit.
Block het ook die plaaslike munisipaliteit geprys vir hul vergunning om water aan die Vaardigheidskool toe te staan om die velde nat te lei in die huidige droogte. Die veld was na twee dae (Vrydag en Saterdag) se intensiewe toutrek-wedywering steeds in 'n goeie toestand.
André van Greunen, eienaar van Timbercity en hoofborg van die toernooi, het gesê dat sy besigheid trots is om met die room van SA toutrek betrokke te kan wees. Die lekker samesyn van die deelnemers en besoekers die afgelope naweek was net weereens 'n bewys van watter sosiale impak die sport het, het hy bygevoeg.
Die 480 kg-toutrekspan van die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal het goud gewen. Foto's: Wyndham Ewerts
Uitslae van toutrekspanne in Eden-streek:
- Oudtshoorn Vaardigheidskool: 6de plek – 480 kg
- Oudtshoorn Vaardigheidskool: 10de plek – 440 kg
- Laerskool Laurus: Goud – 360 kg A-span (Plaat)
- Laerskool Laurus: Brons – 360 kg B-span (Plaat)
- Shalom Akademie: Silwer – 440 kg meisies
- Shalom Akademie: Brons – 480 kg (Plaat)
- Shalom Akademie: Brons – 480 kg meisies (Plaat)
- Van Kerwel: 7de plek – 520 kg
- Van Kerwel: Brons- 520 kg B-span
- Van Kerwel: 4de plek – 520 kg (gemeng)
- Calitzdorp: 4de plek – 440 kg
Van Kerwel Skool se gemengde toutrekspan in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'