OUDTSHOORN SKOPBOKSNUUS - 'n Groot eer het Oudtshoorn verlede week te beurt geval toe die dorp gasheer was vir die SA skopbokstoernooi wat Saterdag en Sondag by die De-Jager-sportkompleks plaasgevind het.
Die toernooi dien as 'n barometer om te bepaal wie die beste skopboksers in die land is wat dan gekies word om die nasionale- en presidentskopboksspanne by die WAKO wêreldskopbokskampioenskappe later vanjaar in Hongarye te gaan verteenwoordig.
Tydens 'n burgemeestersdinee wat Vrydagaand by die Oudtshoorn Inn gehou is het Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester namens die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n tjek van R40 00 aan Shihan Josh Cloete (Wes-Kaapse streekpresident van die SA skopboksvereniging (SAKA) oorhandig.
Tydens sy toespraak by dié dinee het Sylvester gesê dat Oudtshoorn vinnig besig is om 'n gesogte bestemming vir internasionale en nasionale toernooi te word as gevolg van sy warm gasvryheid, infrastruktuur en toeriste aantreklikhede. Hy het ook beklemtoon dat die Oudtshoorn-munisipaliteit homself steeds daartoe verbind om sportontwikkeling as een van die groot dryfvere van die plaaslike ekonomie te prioritiseer.
Shihan Pat Carne (nasionale president van SAKA), het Sylvester se woorde beaam en op sy beurt aangekondig word gesê dat Oudtshoorn die ideale dorp is om 'n internasionale skopbokstoernooi aan te bied en dat die SA skopboksvereniging tans aan maniere dink om dit in die toekoms 'n werklikheid te maak.
Lede van die Grebe's-skopboksklub het die afgelope naweek altesaam 23 medaljes by die SA skopboks-toernooi ingepalm.
Altesaam 338 skopboksers wat in hul onderskeie provinsiale spanne deelgeneem het en van 16 distrikte oor Suid-Afrika afkomstig is, het Vrydagoggend ingeweeg.
Die junior- en seniorspanne het onderskeidelik Saterdag en Sondag meegeding met volle kontak wat in die boksring toegelaat was. Op die matte was slegs ligte kontak toelaatbaar.
Grebe's-skopboksklub van Oudtshoorn, het ook vanjaar aan die kampioenskappe deelgeneem en het uitstekend gevaar met 13 uit sy 16 lede wat top drie plekke behaal het. Die klub het ook drie SA skopbokskampioene by die kampioenskappe opgelewer waarvan twee dubbele SA skopbokstitels ingepalm het.
Een van die skopboksers word 'n opstopper toegedien.
Die burgemeester, Colan Sylvester, oorhandig 'n tjek van R40 000 namens die Oudtshoorn-munisipaliteit aan Shihan Josh Cloete, Wes-Kaapse streekspresident van die Suid-Afrikaanse Skopboksvereniging (SAKA). Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'