Gallery
OUDTSHOORN NUUS EN GALERY - Die Westelike Provinsie wat Eden, Boland, Weskus en Overberg insluit, was die afgelope naweek die algehele wenners van die SA jeugfietsrykampioenskappe.
Die universiteitskampioenskappe sou terselfdertyd ook in Oudtshoorn plaasvind, maar is uitgestel tot Juliemaand wanneer die nasionale fietsryjeugfees plaaslik wegspring.
Dit tydtoetse- en padfietswedrenne het Saterdag en Sondag by Highgate-volstruisplaas en Volmoed-omgewing plaasgevind, met die kriteriumfietswedrenne wat Maandag in Bonteboklaan in Bridgton weggespring het.
FOTOGALERY: Jeugfietsrykampioenskappe in Oudtshoorn
Verskeie hooggeplaastes, onder andere Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais en Oudtshoorn-burgemeester, Chad Louw, het die geleentheid bygewoon.
Volgens Corné Bence, president van die Eden-fietsryvereniging, het dié federasie dit as 'n groot eer beskou om beide die kampioenskappe aan te bied en was dit volgens hom, 'n reusesukses.
"Alhoewel ons in die verlede reeds al vier SA padfietskampioenskappe in Oudtshoorn kon aanbied, was die jeugkampioenskappe vir my baie spesiaal omdat ons dit vir solank al hier wou aanbied juis vir ons opkomende fietsrysterre. Die fietsryers het Maandag tydens die kriteriumfietswedrenne voor die NG Kerk in Bonteboklaan weggespring.
"In terme van ons distrik en provinsie se talent en ontwikkeling, lyk die toekoms blink veral as 'n mens kyk na die uitmuntende vertonings van Jessie Munton om 'n voorbeeld te noem. As 'n distrik is Eden vêr voor ander provinsie omdat ons strukture in plek is met rou talent wat ons van voetsool tot op 'n hoëprestasievlak ontwikkel. Om ons suksesse te onderstreep, is Eden-fietsry ook onlangs vir die vierde keer agtereenvolgende keer aangewys as die sportfederasie van die jaar - iets waarop ons verskriklik trots op is."
Bence sê verder dat verskeie fietsry-ringkoppe van oor die land die kampioenskappe bygewoon het en in hul noppies was met wat hulle ervaar het.
"Die moontlikheid is baie groot dat soortgelyke fietswedrenne van hierdie status in die toekoms in Oudtshoorn gaan plaasvind juis oor die fantastiese samewerking van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Oudtshoorn-verkeer sowel as die breë Oudtshoorn-gemeenskap.
"Ons is tans die enigste fietsryfederasie wat die sport na die hartjie van die gemeenskap neem met totale road closures wat nie in ander provinsies sommer gebeur nie. Ook het ons gespog met topbeamptes van SA fietsry wat ons in staat gestel het om georganiseerd en stiptelik weg te spring."
Volgens Bence was die kampioenskappe ook 'n welkome finansiële inspuiting vir Oudtshoorn met bykans 2 000 toeskouers en fietsryers wat hulle op die dorp tuis gemaak het die afgelope paar dae.
Finale puntestand:
- Westelike Provinsie -393 punte
- Gauteng - 106 punte
- Vrystaat - 77 punte
- Oos-Kaap - 22 punte.
Jessie Munton (middel) van die Westelike Provinsie was die o.17-meisies-kriteriumwedrenne-kampioen. Links is Errin Macridge van KZN (tweede) en Mianette Theron van Westelike Provinsie wat derde was. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'