OUDTSHOORN NUUSFLITS - Eden-fietsry se prestasies, organisasie en voorbeeld vir ander streke se fietsryverenigings, het daarin geslaag om 'n finansiële inspuiting, wat volgens beraming tot R15 miljoen kan wees, vir Oudtshoorn te verseker.
Wat deur Fietsry SA as die Blouvlag-kampioenskappe van die land se fietsrykampioenskappe beskryf word, die 2018 nasionale fietsry en tydtoetskampioenskappe, is aan Eden-fietsry toegeken en word op Oudtshoorn aangebied.
Die kampioenskappe, wat ongeveer 5 000 mense na die dorp sal bring, word van 6 tot 11 Februarie hier op eie bodem aangebied.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit ondersteun Eden-fietsry se organiseerders met R30 000 om van die geleentheid 'n sukses te maak. Die munisipaliteit gaan ook help met die infrastruktuur se voorbereiding.
Tydens die oorhandiging van die R30 000 het Corné Bence, Eden-fietsry se president, die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, die versekering gegee dat hulle die dorp se naam hoog sal hou, nie die munisipaliteit teleurstel nie en 'n kampioenskap van hoogstaande gehalte aan te bied.
"Gastehuise, hotelle, restaurante en ander besighede kan 'n reuseinspuiting tydens die kampioenskappe verwag," het Bence gesê.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'