OUDTSHOORN NUUS - Die waarnemende burgemeester, Noluthando Mwati, het Saterdagaand die Suid-Afrikaanse tafeltenniskampioenskappe by die De Jager-sportkompleks amptelik oop verklaar.
In 'n simboliese gebaar het sy 'n groen lint onder luide applous van die skare en spanne teenwoordig geknip.
Altesaam nege provinsies van regoor Suid-Afrika tesame met Botswana neem deel aan die toernooi wat Sondagoggend by die De Jager-sportkompleks begin het en Saterdag (môre) eindig.
Gaste soos Jean Neething (departement van kultuursake en sport ), Thabang Tsheiso (toernooi adjunkpresident) en Garshen Williams (voorsitter van Eden Tafeltennis federasie) het ook die verrigtinge bygewoon.
Mwati het ook die spelers herhinner dat oorwinnings vanselfsprekend baie belangrik is, maar dat vriendskap en sportmangees op die einde van die dag moet seëvier. Sy het ook al die federasies se spelers en ondersteuners aangemoedig om Oudtshoorn se toeriste attraksies soos die Kango-Grotte, volstruisplase en krokkedilplaas te besoek.
Vanjaar is die eerste keer in die geskiedenis dat Oudtshoorn vir 'n nasionale tennistoernooi gasheer speel.
Noluthando Mwati, waarnemende burgemeester, knip die groen lint om die Suid-Afrikaanse tafeltenniskampioenskappe amptelik oop te verklaar. Links is Garshen Williams, voorsitter van die Eden Tafeltennis federasie. By hulle is twee spelers wat die Eden-tafeltennisspan verteenwoordig.
Damesspeler van die Eden-streek is die ene konsentrasie. Foto's Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'