Gallery Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Die afgelope week het sowat 130 veteraan-pluimbalspelers van oor die land in Hartenbos saamgetrek om aan die SA Veteraan-pluimbalkampioenskappe deel te neem.
Die geleentheid het in die nuwe ATKV Skoffelskuur plaasgevind waar Eden-pluimbalklub die gasheer vir die toernooi was onder die beskerming van die SA Veteraanvereniging.
Tydens die finale wedstryde wat Donderdagaand beslis is, het die pluime behoorlik gevlieg en die toeskouers is bederf met aanskoulike spel in elke wedstryd.
In die vrouefinaal het Karen Coetser (Grens) hard gespook teen Charné Erasmus (Suidelike Gauteng), maar moes uiteindelik die knie buig teen die vasberadenheid van Erasmus.
Nie net het Erasmus die vrouetitel ingepalm nie, maar is sy ook as die sportvrou van die toernooi bekroon. ‘n Wenner voorwaar aangesien sy die hele toernooi sonder enige medikasie met 'n abses in die voet gespeel het.
Dirk Kotze (Winelands) het die toeskouers vermaak met sy akrobatiese spel.
Morné de Beer (Vrystaat) het in twee stelle afgereken met Travis Allison (Oostelike Gauteng) om as die mansenkelspelwenner uit die stryd te tree na 'n wedstryd wat as puik bestempel kan word. In die wedstryd om die plaatwenner te bepaal, het Lourens Schlebush van Eden met puik spel geseëvier teen Dirk Kotze van Winelands en sodoende Eden se naam hoog gehou.
Die vrouedubbelspel was 'n senutergende wedstryd tussen Charné Erasmus en Angela Hardy (beide Suidelike Gauteng) en Rene Schoonees (Winelands A) en Karin Coetzer (Grens).
Kyk 'n video hieronder:
Die tellings het wipplank gery, maar uiteindelik het die span van Suidelike Gauteng die oorhand begin kry en het hulle as die wenners van die baan gestap.
Weens die afsterwe van Johan Kleingeld van Vrystaat se skoonmoeder, was daar nie 'n finale wedstryd in die mansdubbelspel nie.
Tydens die afsluitingsdinee wat Vrydagaand gehou is, is die provinsiale wenners soos volg aangewys:
- A-liga - Suidelike Gauteng (A)
- B-liga – Grens
- C-liga – Westelike Provinsie (C)
Jaco Piek Winelands (A) is as die sportman van die toernooi aangewys en die vrolike span van Winelands (C) was die sportspan van die toernooi.
Hulle het ook die verrigtinge met 'n toepaslike Haka-kreet afgesluit.
Benewens die puik spel wat deurentyd gelewer is, is 'n pragtige sportmansgees ervaar en die toernooi was 'n klinkende sukses. Pluimbal entoesiaste kan gerus nou reeds die volgende datums aanteken aangesien die Woodroffe-toernooi vanaf 20 tot 26 Oktober ook in die ATKV Skoffelskuur in Hartenbos sal plaasvind.
Charné Erasmus (links) en Angela Hardy (Suidelike Gauteng) is die wenners in die vrouedubbels. Erasmus het die vroue-enkelstitel ingepalm en is ook as die sportvrou van die toernooi bekroon.
Die plaatwenner is Lourens Schlebush van Eden.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'