OUDTSHOORN NUUS - Jakhals Events het die afgelope naweek 'n koffie-prettrap ten bate van Anike Thom (12), gr. 7-leerder van Laerskool Wesbank, gehou. Anike vertrek eersdaags na New York waar sy aan 'n internasionale modelkompetisie gaan deelneem.
Hierdie 20 km lange sirkelroete-prettrap het omstreeks 08:00 by Karoobrou-koffiewinkel begin.
Dié roete het tot by De Zeekoe-plaas en terug gestrek.
Inskrywingsfooie het R30 beloop en bykans 50 fietsryers het ingeskryf. Al die fietsryers het na die prettrap 'n heerlike gratis koppie koffie by Karoobrou geniet waar hulle sosiaal met mekaar verkeer het.
By die prysuitdeling was verskeie gelukstrekkings op die spel en is altesaam R1 550 ingesamel. Corné Serfontein het namens Cycle Addict-fietswinkel die prys vir die meeste inskrywings ontvang. Anike is tans 'n Little Princess of South Africa-finalis en vertel dat sy op die oomblik modelklasse een keer per maand in Kaapstad bywoon.
Van links is Stephanie Botha, Almerie Venter, Anike Thom en Corné Botha.
Foto's: Wyndham Ewerts
Sy sê dat dit haar groot droom is om eendag 'n topberoepsmodel te word, maar dat sy ook drome koester om eendag 'n onderwyser te word en 'n skoonheidshuis te besit.
Corné Botha van Jakhals Events, organiseerder van die dag, het dié dag as suksesvol bestempel.
"Elke druppel in die emmer help, en hierdie poging is ons beskeie manier om Anike te help om haar droom te verwesenlik. Ons hou styf duim was dat sy ons naam sal hoog hou in die VSA."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'