STILBAAI NUUS - George-pluimbalklub het Saterdag 16 Julie 'n sosiale byeenkoms in Stilbaai gereël waar juniors, beginners, seniors en meer ervare spelers van oor Eden teen mekaar kon meeding.
Spelers van Stilbaai, Mosselbaai, George en Oudtshoorn het saamgetrek om veral die minder ervare spelers meer van die spel te leer by diegene wat al op provinsiale vlak deelgeneem het.
Stilbaai-pluimbalklub se junior lede het ná 'n jaar van slegs oefen die kans aangegryp om uiteindelik kragte teen ander junior spelers in die Eden-streek te meet.
In die junior geledere het Soné Schlebusch van George die meeste punte ingesamel, terwyl Stilbaai se Gysbert Rademeyer en Nina van der Merwe onderskeidelik met die tweede en derde meeste punte kon wegstap.
Omdat die senior spelers meer gereeld kans kry om in ligawedstryde mee te ding, is daar besluit om die sosiale dag 'n bietjie anders te hanteer. Die spelers is in twee spanne verdeel met André Roode en Louwrens Schlebusch, albei van George, as die spankapteins.
Die organiseerders het ook verras deur twee van die wedstryde te laat speel met 'n net wat deur swart sakke bedek is. Die idee was om die spel 'n klein bietjie moeiliker te maak siende dat die teenstanders nie altyd kon sien waar die pluim vandaan kom nie.
Die span van André Roode is uiteindelik as die wenners aangewys.
Stilbaai se klubbestuur het ook die dag as 'n leerskool gebruik om uit te vind hoe om hierdie soort kompetisies aan te bied. Omdat Stilbaai een van die grootste klubs in die land is, sal klubkompetisies voortaan meer gereeld hier plaasvind.
Daar word ook beplan om die sport na ander dorpe in Hessequa uit te brei. Interdorpkompetisies sal die spelers die geleentheid gee om hulle vaardighede te verbeter en wedstrydfiks te raak. Die mikpunt is om spelers die geleentheid te gee om op interprovinsiale vlak te kan meeding.
Vir meer inligting oor hoe om betrokke kan raak, skakel Kobus Ellis by 082 922 9123 of Ursula van Huyssteen by 084 503 8481.
Junior pluimbalspelers kon kers opsteek by die meer ervare spelers en ook teen hul portuur meeding.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'