OUDTSHOORN NUUS - Die Erasa De Zeekoe-perde-uithourit wat verlede Vrydag en Saterdag by Kansa-krale (5 km buite Oudtshoorn) gehou is, is suksesvol aangebied ondanks die versengende hitte.
Hierdie toernooi dien as een van die kwalifiserende toernooi vir die jaarlikse Fauresmith-uithourit. Die bykans 84 ruiters wat ingeskryf het kon in die 120 km (skofte), 80 km (skofte) of 40 km deelneem.
Saterdag het die kwik naby 35 °C op Oudtshoorn gedraai wat toestande vir mens en dier bemoeilik het. Volgens een van die veeartse wat diens gedoen het by dié toernooi, Pierre de Bruyn, is voorsorgmaatreëls getref om te voorkom dat die perde dehidreer.
Hy het verduidelik dat die perde dadelik gestabiliseer word sodra hulle van 'n wedren terugkeer. Die aangewese perde-hanteerders haal eers die perd se saal af en sien dan toe dat hy water drink en voer eet.
Perde word deur die hanteerders met water afgekoel.
"Ons hooftaak is om te verseker dat die perd se hartslag nie 64 hartslae per minuut oorskry nie. Vir hierdie rede wil ons graag hê dat die perd so gou as moontlik moet urineer omdat dit die hartklop vinniger afbring."
"Alle perde moet ook binne 20 minute gereed wees om deur drie verskillende veeartse liggaamlik ondersoek te word vir enige skaafmerke, maagklanke, verandering in die kleur van die perd se speekselmembraam en rugpyn. Na hierdie inspeksie moet die ruiter en sy perd vir 40 m sonder enige ongemak op en af draf om te bewys dat hulle gereed is vir die volgende skof."
Enige afwyking in hierdie simptome sal die veeartse onmiddellik noop om 'n perd te onttrek aan verdere deelname, het De Bruyn gesê.
Wenners van ruiters in hul onderskeie afdelings:
- Liggewig en kinderruiter - Micheal Vaaltyn
- Standaardgewig- Mabet Cilliers
- Swaargewig- Gareth Coetzee
- 120 km - Julia de Kok.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'