OUDTSHOORN NUUS - Dié naweek gaan vir groot sport-opwinding sorg met die jaarlikse Paasnaweek-sporttoernooi, gereël deur Impact Sport Events, wat vanaf 17 tot 21 April by die Bridgton-sportterrein (Die Plate) plaasvind.
Dié opwindende sportgeleentheid bring agt rugbyspanne en tien netbalspanne bymekaar in 'n naweek vol mededinging en gemeenskapsgees.
Die rugbyspanne wat gaan deelneem is Oudtshoorn-rugbyklub, All Blacks RVK, Spring Roses, Harlequins, Collegians, Hampshire van Graaff-Reinet, Villagers van Worcester en Barbarians.
Die toernooi skop Donderdagaand om 18:00 af en eindig Maandag na die laaste wedstryd.
Daar gaan egter nie net op die veld aksie wees nie, want Sondag word 'n spesiale Gospel Extravaganza aangebied, wat 'n verdere hoogtepunt vir die gemeenskap beloof.
Kaartjies vir die sportgeleentheid beloop R30 per dag, en 'n aparte kaartjie van R30 is nodig om Sondag se Gospel Extravaganza by te woon.
Daar is ook skole wat aan die toernooi gaan deelneem.
Volgens Granwell Strydom, een van die organiseerders, is Bridgton Sekondêr, Hoërskool Môrester, Protea Sekondêr en Aurial College ingesluit. Saterdag 19 April word 'n ontwikkelingskliniek vir die o. 13- seuns deur Jerome Jantjies aangebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’