OUDTSHOORN SPORTNUUS - Oudtshoorn Vaardigheidskool is aangewys om vanjaar die jaarlikse SA junior nasionale toutrekkampioenskappe aan te bied.
Dié kampioenskappe sal oor twee dae van 8 tot 9 Maart beslis word met die land se topskole wat mekaar die stryd sal aansê om as kampioene van hul onderskeie gewigsafdeling gekroon te word. Meer as 2 000 deelnemers word by die kampioenskappe verwag.
In 2014 is die Oudtshoorn Vaardigheidskool vir die eerste keer in sy geskiedenis as SA toutrekkampioene in sy afdeling gekroon en beplan die skool om hierdie jaar wéér sy stem dik te maak.
Volgens Gavin Block, prinsipaal van die Oudtshoorn Vaardigheidskool, beskou die skool dit as 'n groot eer om dié kampioenskappe aan te bied. "Toutrek het die afgelope jare toenemende groei in ons streek getoon. Een van die faktore waarom toutrek so 'n gewilde sport is om te beoefen is die lae koste wat aan toerusting en klere verbonde is."
"Dié sportsoort is ook voordelig vir leerders omdat dit vaardighede soos koördinering, uithouvermoë en vermoë om as span saam te werk, aansienlik verbeter het hy gesê.
TimberCity (hoofborg), Overberg Wealth & Risk Management, Oudtshoorn-munisipaliteit en Klein Karoo Internasionaal is van die borge wat tot dusver hul betrokkenheid by die kampioenskappe bevestig het.
Verversings sal ook te koop wees en die skool nooi die publiek uit om die sportgeleentheid in hul massas te kom ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'