OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het verlede Donderdag tydens 'n geselligheid by Brian's Grill-Restaurant aangekondig dat die Oudtshoorn-sportfees na 'n afwesigheid van twee jaar weens Covid-19, weer sy terugkeer maak en vanaf 15 Junie tot 16 Julie sal plaasvind.
Die fees word aangebied deur die Oudtshoorn-munisipaliteit in samewerking met die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKS), die Oudtshoorn-sportraad en die Eden-sportraad en provinsiale en streeksportfederasie.
Volgens die munisipaliteit se sportont-wikkelingsbeampte, Ian Laubscher, is die doel van die fees om Oudtshoorn as 'n aanloklike bestemming in die Suid- en Wes-Kaap te bemark.
Lluwellyn Coetzee, (Oudtshoorn-munisipaliteit direkteur van strategiese dienste) het in sy toespraak by Laubscher aangesluit en daarop klem gelê dat die fees veral belangrik gaan wees in terme van sporttoerisme en sportontwikkeling.
"Die fees is besig om van krag tot krag te groei alhoewel daar steeds ruimte vir verbetering kan wees wat infrastruktuur betref. Vir hierdie doeleindes het ons finansiering en vennootskappe nodig. Dit is ook krities dat ons die plaaslike atlete 'n ordentlike platform gee waarop hulle kan floreer omdat sport aan die einde van die dag ook 'n beroep kan wees. Ons moet ook aan die sportraad kredit gee vir die fondse wat hulle bewillig het vir plaaslike proteas karatekas wat eersdaags in die buiteland gaan meeding," het Coetzee gesê.
Die distriksbestuurder van DKS, Dirk van der Westhuizen, het bevestig dat die departement R50 000 vir die sportfees bewillig sowel as 'n additionele R60 000 vir die landelike toernooi.
Die sportsoorte wat sal deel uitmaak van die fees, sluit in:
- (o.13 en o.18 Cravenweek vanaf 15 to 16 Junie) by Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium.
- Veerpyltjieontwikkelingstoernooi vanaf 25 Junie by die Oudtshoorn-sportterrein.
- Oudtshoorn-dominotoernooi vanaf 25 Junie by Thusong-sentrum.
- Oudtshoorn-landelike netbaltoernooi vanaf 25 Junie by die Bridgton-sportterrein.
- Interprovinsiale rolbal trips kampioenskappe vanaf 1 tot 2 Julie by die Oudtshoorn-rolbalklub.
- OLFA Top-8-sokkertoernooi vanaf 2 tot 3 Junie by Dysselsdorp-sportstadion.
- Oudtshoorn-gholfuitdaagtoernooi vanaf 6 Julie by Oudtshoorn-gholfklub.
- Vlakkiekrieket-uitdaagreeks vanaf 25 Junie tot 17 Julie in Bridgton.
- Fietsry SA jeugfees en SA Universiteitskampioenskappe vanaf 11 tot 14 Julie by Highgate Volmoed.
- RGR Klein Karoo-ovaalbaankampioenskappe vanaf 9 Julie by die Oudtshoorn-ovaalbaan.
- Wêreldbaldanskampioenskappe vanaf 15 tot 16 Julie by die De Jager-sportkompleks.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'