OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Oudtshoorn-sportfees se program vir 2019 is Maandagaand by die Oudtshoorn-rolbalbaan bekendgestel met verskeie afgevaardigdes van verskillende sportkodes wat die geleentheid bygewoon het.
Dié fees sal vanaf 6 Junie tot die 7 Julie plaasvind. Vanjaar sal die 9de keer wees wat dié gewilde sportfees in Oudtshoorn gehou.
Hierdie fees, wat in samewerking met Wes-Kaapse departement van kultuur- en sport aangebied word, was nog net een keer (2014) sedert sy bestaan nie aangebied nie.
Vanjaar sal twee nuwe sportkodes, Wêreldbaldans-proewe en fietsry, ook deel vorm van die feesprogram wat die totaal sportsoorte by die fees op 12 te staan sal bring.
Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, het tydens sy toespraak die ekonomiese waarde van die fees beklemtoon, en gesê dat Oudtshoorn se bemarkingswaarde met hierdie tipe kaliber van sportbyeenkomste jaarliks verhoog.
Volgens hom is die inwoners van Oudtshoorn die hart en die siel van die dorp, en is dit verblydend om te sien hoe Jan-alleman en besighede floreer tydens sportbyeenkomste.
Die sosiale rol wat sport speel om eenheid te bevorder moet ook nie onderskat word nie, het hy gesê.
Die verskillende sportkodes se verteenwoordigers wat die bekendstelling van die 2019 Oudtshoorn-sportfees Maandagaand by die Oudtshoorn-rolbalklub bygewoon het, is voor, van links: Felicity Damons (netbal), Colan Sylvester (ODN-burgemeester), Katy Britz (baldans) en Hendrik Ruiters (raadslid). Agter: Gabriel Majola (sokker), Jean Neethling (departement sport-en kultuur), Julian Fielies (ODN-sportraad), Corné Bence (fietsry), Carol Swanepoel (veerpyltjie), Gertjie Bekker (rolbal) en Martin Daviids (laerskolerugby). Foto: Wyndham Ewerts
Die feesprogram en venues vir 2019 is:
- 7 tot 9 Junie - o.13 Craven week rugbytoernooi (Hoërskool Oudtshoorn)
- 8 Junie - Veerpyltjie ontwikkelingstoernooi (Skouterrein)
- 14 tot 15 Junie - Rolbalkampioenskappe (Oudtshoorn-rolbalklub)
- 17 tot 19 Junie- Fietsry (Highgate, Volmoed, Bridgton)
- 17 Junie - Inheemse Spele (De Jager-sportkompleks)
- 22 Junie - Eden-bokstoernooi (Nevadasaal in Bongolethu)
- 22 Junie – Oudtshoorn-dominotoernooi (De Jager-sportkompleks)
- 22 tot 23 Junie - Ontwikkelingsrolbaltoernooi (Oudtshoorn-rolbalklub)
- 29 Junie - Eden Top-8-sokkertoernooi (Bongolethu-sportterrein)
- 29 Junie - Eden en Sentraal Karoo-netbalontwikkelingstoernooi (Bridgton-sportterrein)
- 28 tot 29 Junie – Wêreldbaldans-proewe (De Jager-sportkompleks)
- 6 Julie - Klein Karoo Ovaalbaankampioenskappe (Oudtshoorn-ovaalbaan).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'