OUDTSTHOORN NUUS - Vier Protea-karatekas, Lleythan Smith, Sarah-Jane Lewis, Gio Bruintjies en Daetania de Laan, het die afgelope naweek Oudtshoorn se naam hoog gehou toe hulle by die Karate SA toekennings (KSA) in Durban vereer is.
Dié vierstuks wat toekennings by hierdie spoggeleentheid gekry het omdat hulle Suid-Afrika gedurende die jaar verteenwoordig het, is almal lede van die Jikkai-do-karateklub.
Sensei Avril Maarman, eienaar en instrukteur van dié klub, het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat dit 'n groot eer vir die klub is om vier Protea- karatekas op te lewer. "n Konstante begeerte om voortdurend te slyp aan hul vaardighede as-ook absolute toewyding is van die hoekstene waarop hierdie vier se sukses toegeskryf kan word. Dis beslis 'n testament van die ongelooflike talent waaroor Oudtshoorn se jeug beskik indien dit korrek ontgin word."
Nog twee lede van die klub, Sue-Alice Gysman en Shane May, het ook vanjaar Karate SA kleure (KSA) verwerf.
Alhoewel Jikaido-karateklub nou eers vyf jaar bestaan, is Maarman reeds 20 jaar lank al in Oudtshoorn by karate betrokke. Sy vertel dat haar grootste motivering oor die jare was om selfverdedigingtegnieke en selfdissipline by kinders deur middel van karate aan te leer. Die klub het tans 40 aktiewe lede en oefensessies word in Bongolethu (Dinsdae en Donderdae) en by die Nicolania-saal (Maandae en Woensdae) in Bridgton aangebied. Ouers wat belangstel om hul kinders in te skryf kan Maarman by 083 301 6859 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'