OUDTSHOORN NUUS - Vyf gimnaste van Oudtshoorn Akademie Tuimel en Trampolien het hul plekke by die nasionale gimnastiekkampioenskappe bespreek nadat hulle die afgelope naweek aan die Wes-Kaapse kampioenskappe deelgeneem het.
Die nasionale kampioenskappe vind van 24 tot 27 September in Kaapstad plaas, waar die Oudtshoorn-gimnaste teen van die beste gimnaste in die land sal meeding.
Die kompetisie in die Wes-Kaap was sterk, met meer as 500 gimnaste wat deelgeneem het. Die Oudtshoorn-gimnaste het egter hul staal gewys met verskeie podiumplekke.
Lumé de Koker het die goue medalje in Euro-trampolien verower en 'n derde plek in dubbelmini behaal. Asli-Mae Niemand het derde in dubbelmini geëindig, terwyl Daschin Smith 'n tweede plek in dubbelmini en 'n sesde plek in tuimel behaal het.
Grace Jones het onderskeidelik 10de in Euro-trampolien en sesde in dubbelmini geëindig, terwyl Conlynn Saayman vierde in dubbelmini en 11de in tuimel behaal het.
Volgens afrigter Martina de Koker, is sy trots op die gimnaste se harde werk en deursettingsvermoë.
"Dis nie altyd maklik nie. Daar is maar baie senuwees en baie trane, maar dit maak ons as afrigters en gimnaste baie sterker."
Sy sê sy is besonder trots op hoe hard die gimnaste oefen om hul doelwitte te bereik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’