OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, asook verskeie leiers in Eden-sportkringe het Maandagaand 5 Februarie die beamptes en organiseerders en ongeveer 900 ryers van die SA pad- en tydtoetskampioenskappe op Oudtshoorn verwelkom.
Die kampioenskappe het Dinsdag begin en sal Sondag 11 Februarie eindig. Oudtshoorn-fietsryers het reeds sedert Dinsdag hul name onder die top ryers gegraveer.
Corné Bence, president van Eden-fietsry en direkteur van die byeenkoms, het in die openingstoespraak onderneem dat Eden-fietsry 'n sukses van die kampioenskappe sal maak.
"Ons het ons beste tree vir die deelnemers, bestuurslede en toeskouers voorgesit."
Sylvester het almal hartlik verwelkom en dit duidelik gemaak dat Oudtshoorn die sportmekka van Eden is. Hy het Bence bedank dat Eden-fietsry dit vermag het om die kampioenskappe hier aan te bied. "Dit is 'n geweldige ekonomiese inspuiting vir die dorp."
Desmond Speelman, voorsitter van die Eden-sportraad, het Fietsry SA bedank vir die geleentheid wat hulle Oudtshoorn gun om die kampioenskappe aan te bied.
Oudtshoorn presteerders (tot voor 13:00 Woensdag 7 Februarie):
- Errol Pretorius (60-64): Eerste
- Philo Verlaat (gestremde ryers): Tweede
- Fienie Barnard (40-44): Derde
- Amanda Hager (55-59): Derde
- Suveena Arries (o.15): Vyfde
- Chandré Schultz (o.15): Sesde
- Kobus Barnard (40-44): Elfde
- Willem Serfontein (45-49): Veertiende
- Reece Wheeler (o.15): Sestiende
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'