OUDTSHOORN NUUS - Opwindende bergfietsry en veldwedlope wag op deelnemers by die jaarlikse Red Stone fietsry- en veldwedloop-naweek op Vrydag 11 en Saterdag 12 Mei.
Die byeenkoms vind weer op die plaas Buffelskloof in Kruisrivier plaas. "Die naweek se program is vol pret, fietsry, veldwedlope en lekker saam kuier," het Corné Botha van Jakhals Events gesê.
Die Vrydagmiddag vanaf 17:00 vind registrasie plaas en die aand vanaf 18:30 sal 'n nagrit en veldwedloop plaasvind. "Ryers en drawwers word daaraan herinner dat daar nie deelgeneem kan word sonder ligte nie. Daar is ook splinternuwe medaljes vir die twee nagitems."
"Die aand sal daar potjiekos te koop wees, met 'n biertuin en verskeie stalletjies."
Saterdagoggend sal die speke behoorlik sing met vyf verskillende afstande vir die bergfietsryers, naamlik 11 km, 17 km, 43 km en 60 km.
"Hierdie is ook een van die agt kwalifiserende wedrenne in die Eden XCM-reeks. Vir die veldwedloopentoesiaste word twee afstande aangebied naamlik 'n 11 km en 20 km. Hierdie items word geken deur ongelooflike mooi enkelspoor paadjies en besondere mooi natuurskoon."
Drawwers tydens 'n vorige veldwedloop.
Terug by die 'race village' wag 'n heerlike atmosfeer op almal wat die wedren voltooi. Lewendige musiek, 'n biertuin, klomp stalletjies en selfs plaasdiere om die kinders mee besig te hou.
As beloning vir die tawwe dag se fietsry en draf sal alle deelnemers wat die items klaarmaak, medaljes ontvang.
Daar is ook goue, silwer- en bronsmedaljes vir podiumwenners. Wisseltrofeë, wat spesiaal deur 'n plaaslike kunsgalery in Lategansvlei gemaak en ontwerp is sal ook aan wenners oorhandig word.
Aanlyninskrywings kan op www.redstonehills.co.za gedoen word.
Vir meer inligting skakel Botha by 074 260 2871.
Lees 'n verwante artikel: Groot fietsry tydens KKNK
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'