OUDTSHOORN NUUS - 'n Ontwikkelingsdag om pluimbal as 'n sportkode onder kinders, blootstelling te gee, is Saterdag 13 Oktober by die De Jager-sportkompleks aangebied.
Leerders van skole in Oudtshoorn asook jong lede van pluimbalklubs in Eden (Oudtshoorn, George, Mosselbaai en Stilbaai) is na die geleentheid genooi. Volgens die organiseerders was die doel van die dag nie slegs om meer blootstelling aan pluimbal te gee nie, maar ook om kinders wat reeds pluimbal speel se tegnieke te ontwikkel.
Aldo Kroukamp het leerders wat vir die eerste keer met pluimbal kennis gemaak het touwys gemaak ten opsigte van opwarmingsoefeninge, hoe om die raket te hanteer, en verskillende tegnieke om die spel te bemeester en te geniet.
Daar was goeie belangstelling met 43 deelnemers waarvan agt reeds pluimbalspelers was. Die ander 35 was kinders wat nog nooit pluimbal gespeel het nie, maar belangstel om te begin speel. Die agt spelers het wedstryde as voorbeeld gespeel waarna Martin Kruger, Jean van Rooyen en Dylan Moses onderskeidelik in die eerste, tweede en derde plekke geëindig het.
Kinders wat belangstel in pluimbal word genooi om Dinsdae en Donderdae om 18:30 by die De Jager-sportkompleks aan te meld. Skakel Almerie by 079 158 9161 vir enige navrae en verdere inligting.
Die deelnemers aan Saterdag se ontwikkelingsdag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'