GEORGE NUUS - Die aanbieding van die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) op 15 Februarie aanstaande jaar, is in die weegskaal. Die organiseerders het gehoop om teen einde November te weet of die nodige geld en borge in plek is. In dié stadium is dit nog nie.
Alewijn Dippenaar, die geleentheids-direkteur vir die OCC 2020, het Dinsdag by navraag gesê daar is in die stadium R200 000 beskikbaar. Dit is reeds deur maatskappye en instansies bevestig. "Ons kort nog sowat R1 miljoen om aanstaande jaar se wedren aan te bied."
Die organiseerders het onlangs vergader en besluit om te wag tot later vandeesmaand voordat 'n finale besluit geneem word. "Ons moet voor Kersfees weet sodat 'n besluit geneem kan word. As ons terugkom in die nuwe jaar, is daar net ses weke oor."
Volgens Dippenaar wag die organiseerders nog vir die George-munisipaliteit vir finale bevestiging of hy weer betrokke gaan wees as 'n borg.
Intussen gaan gesprekke met ander moontlike borge ook voort. Die George-sakekamer is daarby betrokke. "As 100 sakeondernemings elkeen R5 000 gee, dan het ons al R500 000. Dit sal ons deurtrek."
Die organiseerders sal graag wil sien dat aanstaande jaar se geleentheid wel voortgaan.
It is till uncertain whether next year's Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC), planned for 15 February, will take place. The organisers hoped to have the necessary money and sponsorships in place by end November. At this stage they need about R1-million to stage next year's event. They have postponed a final decision till later this month and hope to have an answer before Christmas.
'Ons bring jou die nuutste, George, Tuinroete nuus'