CALITZDORP NUUS - De Wet Theunissen, 'n graad 12-leerder van Hoër Landbouskool Oakdale, het die nuus dat Hoërskool Calitzdorp weens 'n gebrek aan fondse nie aan die SA-toutrekkampioenskap kan deelneem nie, as 'n uitdaging om 'n goeie daad te pleeg, beskou.
Theunissen het Saterdag 10 Maart vir sy skool aan die Eden-toutrekkampioenskap in Oudtshoorn deelgeneem.
Tydens die kampioenskap het Hoërskool Calitzdorp se afrigters die nuus bekendgemaak.
"Op eie inisiatief het De Wet Theunissen in samewerking met Nita Steyn (Oakdale-ouer), begin om geld onder ouers en besighede in te vorder. 'n bedrag van R15 000 is deur De Wet aan Hoërskool Calitzdorp se 440 kg-span oorhandig, wat aan hulle die geleentheid tot deelname aan die SA-toutrekkampioenskap sal bied," het Marlene Carstens, woordvoerder van Hoër Landbouskool Oakdale gesê.
Die SA-toutrekkampioenskap, waaraan verskeie hoër- en laerskolespanne landwyd gaan deelneem, word hierdie naweek (Vrydag 23 en Saterdag 24 Maart) in Kimberley aangebied.
Hoërskool Calitzdorp se toutrekspan met De Wet in die middel.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'