OUDTSHOORN NUUS - Die regering se onlangse aankondiging dat die land na vlak 2 van die nasionale Covid-19-inperking beweeg, het die weg gebaan dat ontspanningsport soos fietsry weer stelselmatig wedrenne mag aanbied.
Op Oudtshoorn en in die Eden-distrik sal die eerste fietswedren reeds in September onder streng veiligheidsmaatreëls plaasvind.
Plaaslike fietsryers soos Charlissa Schultz (Protea-fietsryer) het regdeur die grendeltydperk probeer om haar fiksheidvlakke op peil te hou. Sy het onder meer 87 km tydens Oudtshoorn se eerste virtuele Comrades-maraton saam met die bekende atleet, John April, afgelê.
Fietsryers van Oudtshoorn soos Zoë Arndt, Breyton Hendricks, Benino Hans het tesame met Schultz ook drie weke gelede aan 'n o.19 Suid-Afrikaanse e-wedrenkampioenskappe deelgeneem. Schultz het tydens dié kampioenskappe Oudtshoorn se vlag hoog laat wapper toe sy ook die titel in haar afdeling opgeraap het.
FietsrySA het die volgende regulasies uitgereik post vlak-2 van die Covid-19-inperkingsmaatreëls:
Dit is FietsrySA se aanbeveling dat algemene groepritte tot 10 fietsryers beperk moet word om aan sosiale afstandreëls te voldoen. Benewens dit moet georganiseerde klubritte die vereistes vir byeenkomste volg en die grootte tot 'n maksimum van 50 persone beperk.
Alle ander vlak 3-regulasies bly onveranderd ten opsigte van byeenkomste en geleenthede.
Die aantal fietsryers wat aan fietsrytoernooie mag deelneem sal beperk word tot tussen 40 en 45 fietsryers afhangend van personeelgetalle.
Die maksimum bywoningsgetalle per dag is 300 persone per toernooi wat personeel en fietsryers insluit.
Volgens FietsrySA is alle nasionale fietsrykampioenskappe gekanselleer totdat die regulasies groter deelname moontlik maak.
Dit is van kardinale belang dat alle organiseerders, toegangsportefeuljes, administratiewe ondernemings dié regulasies nakom om te voorkom dat hierdie vergunnings nie deur die regering ingetrek word nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'