OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die Oudtshoorn-munisipale rugbyspan het Vrydagaand hul eweknie van George in 'n SWD Munisipale-uitdaagreekswedstryd op die Bridgton-sportterrein oortuigend met 43-14 geklop.
Alhoewel George die gunsteling in dié reeks is, het Oudtshoorn in die vorige weke gewys dat hy ook as een van die groot kanonne beskou moet word.
Die oorwinning oor George kom nie as n totale verrassing vir ondersteuners nie omdat die tuisspan verlede week Hessequa met 75-26 afgeransel het.
Dieselfde Hessequa teen wie George harde bene moes kou om hulle met 46-31 te klop.
Keith Meyer, afrigter van die plaaslike munisipale span, het in die wedstryd teen George verras toe hy die 20-jarige speler van Harlequins-rugbyklub, Jaylen Pretorius, op buitesenter in die beginspan ingesluit het.
Hierdie skuif van Meyer het dividende betaal met Pretorius wat sy man in die middeveld gestaan en ook 'n drie gedruk het. Volgens Meyer het hy besluit om Pretorius in die beginspan in te sluit omdat hy tydens oefeninge gewys het dat hy 'n kans verdien.
"Die feit dat dit met sy insluiting teen 'n groot span soos George gekom het, was 'n bysaak. Ek is ook 'n afrigter wat 'n voorstaander is om jong talent op meriete 'n ordentlike kans te gee om te swem of om te sink," het Meyer gesê.
In die tweede helfde teen George het Oudtshoorn 'n kliniese vertoning gelewer wat die res van die spanne in die toernooi sekerlik moet laat wakker lê snags.
Met die afskop het Oudtshoorn die wedstryd se tempo drasties verhoog en 21 onbeantwoorde punte opgestapel. George het moedig teenaanvalle geloods; net om geleenthede te skep vir die volstruise se snellers soos Bradwin Wanies, Nathan Baartman en Charlston Ewerts om in gebroke spel te gedy.
Ewerts is tans die top-driedrukker (7) in dié toernooi. Hy het ook tot dusver die meeste punte (35) aangeteken. Al vier munisipale spanne (Oudsthoorn, George, Mosselbaai en Hessequa ) in die reeks het tot dusver drie wedstryde elk gespeel met die tuisspan wat tans die voorloper (12 punte) op die SWD Munisipale-uitdaagreeks se punteleer is.
Mosselbaai is in die tweede plek met 10 punte gevolg deur George (10 punte) en Hessequa (2 punte) in die houtlepel-posisie.
Oudtshoorn se volgende wedstryd is Vrydagaand (vandag) op die Bridgton-sportterrein teen Mosselbaai.
Laasgenoemde het die volstruise op Brandwacht 'n paar weke terug net-net met 28-26 geklop. Oudtshoorn sal dus alles in die stryd werp om die sakie reg te stel.
Op 25 Oktober speel Oudtshoorn teen George in Blance en die week daarna pak hulle Hessequa in Albertinia. Die rondomtalie wedstryde sal dan afgehandel wees met die twee spanne bo-aan die punteleer wat sal deurdring om in die finaal op Outeniquapark (9 November) in George te speel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'