OUDTSHOORN NUUS - Moonlight-sokkerklub van Dysselsdorp het die afgelope naweek die SAFA Eden Nedbank-trofee in Mosselbaai ingepalm nadat hulle Seabirds in die eindstryd met strafdoele in bykomende-tyd verslaan het.
Dié stryd teen Seabirds was 'n taai affêre met Moonlight wat met een doel teenoor nul, teen rustyd agter geloop het.
Moonlight het sy sokkies in die tweede helfte opgetrek en is in die doodsnikke beloon met 'n briljante doel deur Brenwill Muggels. Direk na Muggels se doel het die skeidsregter die wedstryd afgeblaas waarna strafdoele van die doelmerk afgeskop is om die uiteindelike wenner te bepaal.
Jayden Bernadus, doelwagter van Moonlight, het een strafdoel gekeer en een strafdoel is heeltemal deur Seabirds misgeskop. Moonlight was op sy beurt suksesvol met vier strafskoppe en het slegs een gemis.
Met hierdie sege het Moonlight nou deurgedring na die provinsiale uitspeelwedstryde van die Nedbank Cup wat eersdaags in Kaapstad beslis word.
Keanan du Plessis, voorsitter van Moonlight, het na die wedstryd gesê dat hy trots is op wat sy jong spelers onder moeilike omstandighede vermag het.
"Hul "never say die"- houding tot die bittereinde is die rede hoekom ons hierdie trofee kan lig. Ons doen nou ' n beroep op die gemeenskap om ons by te staan met donasies vir ons reis na Kaapstad."
Vir enige inligting kontak Du Plessis by 061 970 5077 of e-pos na moonlightfootballclub@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’