Sponsored Content
OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Meiringspoort Challenge, wat hoofsaaklik uit 'n veldwedloop en bergfietsren (MTB) bestaan, spring Saterdag 25 Mei vanaf 07:30 by die NG Kerk op De Rust (35 km buite Oudtshoorn) weg.
Atletiek SWD (veldwedloop) en Jakhals Event (bergfietsren) sal vir die kontrolering van die atlete se tyd en registrasie verantwoordelik wees. Gratis tee, koffie en beskuit sal vanaf 06:00 aan die deelnemers verskaf word.
Volgens Brende Brits, een van die organiseerders, bied hierdie aktiwiteite deelnemers 'n unieke geleentheid omdat die roetes oor privaat grond strek wat voetspoorpaadjies deur 'n rivier, oor 'n bruggie en langs 'n grensdraad insluit. "Alhoewel sommige opdraande ietwat steil is, is daar ook afdraande wat die inspanning die moeite werd maak."
Die twee veldwedlooproetes strek oor Meijer's Rust - plaas wat by die ingang na Meiringspoort geleë is, tot op die plato waar die pieke van die Swartberge majestueus bo mens uittroon.
Dan is dit met 'n kronkelpaadjie al langs die rivier af, verby die waterval, tot onder op Voëlgesang plaas waar die roete heen en weer oor die rivier spring, en dan terug na die kerkterrein. Twee waterpunte sal ook op die roetes beskikbaar wees.
Die bergfietsroetes spring ook by die kerk weg voordat dit vir die verskillende afstande in verskillende rigtings oor plase in die Middelplaas-omgewing versprei. Hierdie roetes volg plaaspaaie verby landerye, verby die Stompdrift-besproeiingsdam, tussen die rooi koppe deur, oor die wal van 'n gronddam waarin genadiglik nog 'n bietjie water is en waar kinders die fietsryers geesdriftig aanmoedig waarna die ryers terugkeer na die kerk. Die pret begin reeds Vrydagaand al wanneer 'n steakete (R120 per persoon) met skyfies en slaai in die markiestent op die kerkterrein.
Vir die soet tand sal ook varsgebak beskikbaar wees met vrolike musiek in die agtergrond.
Bergfietryers durf die plaaspaaie aan. Foto's verskaf
Tipiese Klein-Karoo-kos soos braaivleis, vegan-disse, roosterkoek (hoender- en wildsvulsel) en vele meer sal Saterdag in die kerksaal verkoop word. Daar sal ook aan varsgebakte terte, koeke, beskuit, kolwyntjies, oliebolle (donuts) gesmul word. Kaartfasiliteite is beskikbaar.
Deelnemers kan ook gebruik maak van die gratis Wi-Fi en kontantkroeg. Alle deelnemers wat die wedlope binne die vasgestelde tye voltooi sal medaljes ontvang. Die prysuitdeling begin 12:00.
Om in te skryf en vir meer inligting kan u die webblad by www.meiringspoortchallenge.co.za besoek, of vir Henkie du Plessis by 082 396 4094 (bergfietsren) en Pieter Schoeman by 082 377 0547 (veldwedloop) skakel. E-posse kan ook na meiringspoortchallenge@gmail.com gestuur word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'