OUDTSHOORN SPORTNUUS- Jikkai-do-karateklub het verlede naweek drie medaljes by die SA Top-10-toernooi in Bloemfontein ingepalm.
Volgens hul afrigter, Avril Maarman, het slegs vier karatekas van die klub, Luciano Samson (silwer), Sheree Samson (brons), Sue-Alice Gysman (vyfde plek) en Shane May (brons) aan die toernooi deelgeneem.
Dié vierstuks is ook genooi na 'n nasionale karate-oefenkamp wat vanaf 14 tot 16 Mei in Durban sal plaasvind.
Hierdie oefenkamp is deel van die keuringsproses om in Karate SA se span opgeneem te word.
Op 'n vraag aan Maarman hoe dit voel om na 'n lang aflêtydperk weer provinsiaal mee te ding, het sy gesê dat dit moeilik is omdat die klub op hierdie stadium nog nie formeel oefen nie.
"Ons dojo het nog nie oopgemaak nie, maar om fiks te bly, het die lede self inisiatief geneem om op hul eie by die huis te oefen. Wes-Kaap Karate het ons ook bygestaan met virtuele oefensessies, so ook Eden en Karate SA wat twee Zoom oefensessies aangebied het."
Die klub berei tans voor vir die Arnold African Classic uitnodigings-gevegskunstoernooi wat later vanjaar plaasvind.
Van links is Luciano Samson (silwer), Sheree Samson (brons), Sue-Alice Gysman (vyfde plek) en Shane May (brons.) Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'