OUDTSHOORN NUUS - Louis Visser, wat verlede jaar die Timbercity Cycle Challenge oor 104 km gewen het, sal vanjaar betyds terug wees in die land om sy titel te verdedig. Hy is tans in Europa waar hy vir 'n klub fietsry en sal eers teen die middel van Oktober terugkeer.
Sy skedule het egter verander en hy sal hierdie naweek in Oudtshoorn wees om Sondag aan die agtste Timbercity Cycle Challenge deel te neem. Volgens Visser is dit nie ideaal om aan 'n wedren deel te neem so kort na 'n vlug nie, maar hy is gereed om sy titel te verdedig.
Volgens die organiseerders het die fietsryspan, Alfa Bodyworks-Giant, van die Kaap ook te kenne gegee dat hulle gaan deelneem.
Na aanleiding van navrae oor 'n korter roete vir kinders is daar ook besluit om 'n pretroete van 8 km wat by die Caves-aftreeoord sal omdraai, in te stel. Inskrywings kan steeds Saterdagmiddag en Sondagoggend toe by Brian's Grill in Baron van Reedestraat, gedoen word.
Inwoners word daaraan herinner dat die inkomende baan van Baron van Reedestraat vanaf die grotte se kant, Sondag tussen 06:00 en 13:30 vir verkeer gesluit sal wees.
Die uitgaande baan sal vir tweerigtingverkeer gebruik word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'