OUDTSHOORN NUUS - Die Eden-tweekampverenig-ing was suksesvol met die bod vir die aanbied van die 45ste SA tweekampkampioenskappe wat op Oudtshoorn vanaf 20 tot 21 Maart 2020 sal plaasvind.
Tussen 800 en 900 atlete van 14 provinsies en hul gesinne word by dié byeenkoms verwag en kan die dorp dus 'n groot finansiële inspuiting gedurende die tydperk verwag.
Om egter hierdie byeenkoms 'n sukses te maak, het Eden-tweekamp al die rolspelers op Oudtshoorn en in die Eden nodig en beoog hulle om hierdie 'n uithanggeleentheid te maak.
Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport asook die Oudtshoorn-munisipaliteit en Sportsmans Warehouse is reeds betrokke.
Daar word ook tans met verskeie potensiële borge onderhandel om aan boord te kom.
By die 2020-byeenkoms sal daar van 'n koeponstelsel gebruik gemaak word en alle besoekende spanne gaan van hierdie koepons voorsien word.
Indien u gaan inskakel by hierdie projek, gaan u besigheid se naam en kontakbesonderhede vooraf aan al 14 spanne en hulle ouers beskikbaar gestel word en gaan dit ook in die amptelike gedrukte program verskyn.
In ruil daarvoor vra Eden-tweekamp slegs 5% van die bedrag wat diegene by u besigheid spandeer.
Hulle handig die koepon by u in en na die byeenkoms word die verskuldigde bedrag aan Eden-tweekamp oorbetaal. Op hierdie manier word 'n wen-wen situasie gebaseer op wedersydse vertroue geskep.
Indien u besigheid graag deel van hierdie projek wil wees, kan u die hooforganiseerder, Dave van der Walt, by 082 773 4901 of davesus@telkomsa.net kontak vir enige verdere inligting.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'